Los Angeles

City of Los Angeles

Kaart Seël
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Kalifornië
 County Los Angeles County
 Koördinate 34°03′N 118°15′W / 34.050°N 118.250°W / 34.050; -118.250
 Gestig op 4 September 1781
 Geïnkorporeer op 4 April 1850
 Oppervlakte:  
 - Totaal 1 301,970 vk km
 Hoogte bo seevlak 71 m
 Bevolking:  
 - Totaal (City of LA 2015) 4 031 000[1]
 - Bevolkingsdigtheid 3 096/vk km
 - Metropolitaanse gebied 15 250 000
 - Combined statistical area (CSA) 17 786 419
 Tydsone PST (UTC -8)
 - Somertyd PDT (UTC -7)
 Klimaat  
 - Tipe Subtropiese klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 16,5 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 12,5 / 20,3 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 379,2 mm
 Burgemeester Eric Garcetti (D)
 Amptelike Webwerf lacity.org

Los Angeles (Engels: [lɒs ˈændʒələs], ; Spaans: [los ˈaŋxeles] "die Engele") is 'n groot, uitgestrekte metropool aan die weskus van die Verenigde State en die administratiewe setel van die Los Angeles-distrik (Los Angeles County) in Suid-Kalifornië.

Echo Park Lake op 'n helder Desemberoggend, met die silhoeët van Downtown Los Angeles teen die agtergrond
'n Nagtelike uitsig oor die middestad
Stad van kuns en kultuur: Getty Center in die Santa Monica-berge. Die Kaliforniese sonlig skitter tussen sonop en sononder in alle skakerings van wit op die fasades van Italiaanse travertyn
Millennium Biltmore Hotel, sedert 1923 'n gunsteling-verblyfplek vir staatshoofde en rolprentsterre
Walt Disney Concert Hall: ouditorium

Die stad is in 1781 deur die Spaanse kaptein Rivera y Moncada onder die naam El Pueblo de Nuestra Señora Reina de los Ángeles de la Porciúncula ("Stad van Onse Dame, Koningin van die Engele van die Porciúncularivier" – die nedersetting se presiese naam kan deur geskiedkundiges tans nie bepaal word nie[2]) met elf Spaanse gesinne (altesaam 44 siele) langs die Los Angeles-rivier gestig, maar dit is eers op 4 April 1850 – vyf maande voordat Kalifornië amptelik tot die Unie toegelaat is – as 'n munisipaliteit geïnkorporeer.

Los Angeles is by verre die grootste stedelike nedersetting in Kalifornië, en sedert 1990, toe dit die tradisionele Second City Chicago verbygesteek het, op een na die grootste metropool in die Verenigde State, met 'n inwonertal wat in 2015 vir die eerste keer in sy geskiedenis die viermiljoenkerf verbygesteek het. Die metropolitaanse gebied van Los Angeles (wat naas Los Angeles ook die distrikte San Bernardino, Riverside, Ventura en Orange County bevat) huisves 'n bevolking van meer as 17 miljoen met uiteenlopende etniese en ekonomiese agtergronde. Die stad is in die 20ste eeu as die prototipe van 'n toekomstige metropool beskou wat alle voor- en nadele van 'n uitgestrekte metropolitaanse gebied in hom verenig het.

Die stad, waarvan die naam dikwels afgekort word tot LA, is 'n wêreldsentrum vir sake en internasionale handel, vermaak, kultuur, media, mode, wetenskap, tegnologie en onderwys. Dit is die setel van bekende professionele liggame, kulturele organisasies en tersiêre onderwysinstellings soos die University of Southern California en die University of California en een van die kragtigste ekonomiese spilpunte in die VSA.

Los Angeles word gelys as die wêreld se derde welvarendste en vyfde magtigste en invloedrykste metropool wat in die VSA net deur New York oortref word. Die gekombineerde statistieke gebied (combined statistical area, CSA) van Los Angeles-Long Beach-Anaheim sal in 2020 na beraming 'n bruto metropolitaanse produk van $1207,3 miljard genereer wat van die stad die tweede grootste ekonomiese sentrum in die Verenigde State na die metropolitaanse gebied van New York maak.[3]

Met Hollywood het Los Angeles daarnaas tot die "Wêreldhoofstad van Vermaak" ontwikkel en speel steeds 'n leidende rol in die rolprent-, televisie-, videospeletjie- en musiekbedryf, al word die meeste belangrike ateljees tans in die stadsdeel Burbank aangetref. Die belangrikheid van die plaaslike vermaakbedryf maak van Los Angeles en sy voorstede gewilde woonplekke vir bekende vermaakpersoonlikhede.

Die betowering van die Amerikaanse Droomfabriek, Hollywood, Hollywood Boulevard met sy beroemde Walk of Fame, Sunset Strip, en Beverly Hills, asook die natuurskoon van sy strande het van Los Angeles die sinnebeeld van die Kaliforniese droom gemaak en tot sy vinnige groei bygedra. Dekades lank was Los Angeles se stadsgeskiedenis 'n verhaal van suksesvolle selfbemarking en grootskaalse binnemigrasie. Aanvanklik was die droom van vryheid en onafhanklikheid beperk tot 'n klein laag welvarendes.

Kort voor lank het die stad 'n trekpleister vir honderdduisende Amerikaners uit die Middelweste geword wat 'n voorstedelike lewe in die enkelgesinshuise van Southland, die sonnige suide van Kalifornië, kon bekostig, vry van die beperkings wat 'n lewe in die digbevolkte Amerikaanse metropole van die Ooskus hulle sou opgelê het. Uiteindelik het Los Angeles ook 'n toevlugsoord vir ontworteldes geword wat slagoffers van die Dust Bowl, een van die grootste natuurrampe in die geskiedenis van die VSA, geword het, en met niks meer as hul motors, vol gepak met hul besittings, hier aangekom het.

Die stadsgebied, wat deur 'n netwerk van oënskynlik eindelose snelweë deurkruis word, behels 'n groot verskeidenheid boustyle wat van die stadsentrum met sy wolkekrabbers tot luukse villas in die klowe van die omgewing strek. Sy bewoners, na wie in die Verenigde State as Angelenos verwys word, geniet 'n gematigde en sonnige klimaat, ook in die winter. Groen ruimtes en strande langs die Stille Oseaan-kuslyn soos Venice- en Huntington Beach is gewilde ontspanningsplekke. Disneyland is ook in die buurt van Los Angeles en was die eerste vermaaklikheidspark van sy soort. Los Angeles het as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele van 1932 en 1984 opgetree en sal naas Londen en Parys in 2028 die derde stad wees wat vir 'n derde keer as gasheerstad vir die Olimpiese Somerspele optree.[4]

  1. (en) Persverslag van die Kaliforniese Departement van Finansies, uitgereik op 2 Mei 2016. Besoek op 7 Junie 2016 Geargiveer 4 Junie 2016 op Wayback Machine
  2. Bob Pool: City of Angels' First Name Still Bedevils Historians. In: Los Angeles Times, 26 Maart 2005. Aanlyn beskikbaar: articles.latimes.com. Alternatiewe name of spellings, wat deur historici voorgestel is, is El Pueblo de Nuestra Señora de los Angeles, El Pueblo de Nuestra Senñora la Reyna de los Angeles, El Pueblo de Nuestra Senñora de los Angeles de la Porciuncula, El Pueblo de Nuestra Senñora la Reyna de los Angeles del Rio Porciuncula, El Pueblo de la Reina de los Angeles Sobre el Rio de Porciuncula, Pueblo del Rio de Nuestra Senñora la Reyna de los Angeles de Porciuncula
  3. (en) Statista.com: Forecasted Gross Metropolitan Product (GMP) of the United States in 2020, by metropolitan area
  4. (en) Los Angeles Times, 13 September 2017: L.A. Officially Awarded 2028 Games. Besoek op 14 September 2017

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search